top of page

LIG VAN WAARHEID - WÊRELD DEBUUT

NUWE AFRIKAANSE KERSORATORIUM: LIG VAN WAARHEID


Na die suksesvolle uitvoering en opname van Kruis van Liefde, die eerste Afrikaanse Paasoratorium, in Maart 2021, het die publiek se oorweldigende positiewe reaksie die komponis, Franco Prinsloo, geïnspireer om nog ‘n Oratorium te komponeer. In sy nuwe Kersoratorium, Lig van Waarheid, beeld hy die verhaal van die geboorte van Jesus - die Kersverhaal uit. Die nuwe Oratorium is spesiaal vir die Vox Chamber Choir gekomponeer.



Die libretto vir dié splinternuwe Oratorium is deur Prinsloo en die bekende bariton, Chris Vale, saamgestel. Hulle het liriese berymings uit die Halleluja-sangbundel en die Koraalboek van 1956, en enkele tekste uit die Sionsgesange van 1945 herbenut. Die teks vir die resitatiewe is uit die 1953- en 1983-vertaling van die Evangelie van Lukas geneem.


“Nadat ek opnuut weer die wonderlike liedtekste van die Halleluja-sangbundel en die ou Koraalboek van 1956 bestudeer het, het ek besef watter ongelooflike poëtiese waarde hierdie tekste bied. Ek het doelbewus liedtekste wat onbekend aan my is begin versamel, spesifiek met die doel om die Kersoratorium te komponeer”, vertel Prinsloo.



“Die tekste besit ‘n besondere ritmiese vernuf omdat dit juis geskep is om gesing te word. Dit is ongelooflik opwindend om nuwe lewe in hierdie soms vergete tekste te blaas met nuwe toonsettings,” vervolg Prinsloo.


Prinsloo en Vale het doelbewus nooit na die oorspronklike melodieë gekyk nie, en slegs met die berymings gewerk om te verseker dat die finale libretto uit poëtiese kragtige lirieke bestaan. Die gevolg is ‘n meesleurende, nuwe Afrikaanse Kersoratorium wat nuwe lewe in ou tekste blaas deur vars, kontemporêre toonsettings.


Die verhaal word deur ‘n ongewone kombinasie van instrumente vertel: koor, soliste, ‘n strykorkes, twee trompette, celesta, perkussie en ‘n solo-fagot. In die laaste beweging word ‘n orrel ingesluit wat op triomfantelike wyse die voltrekking van die Oratorium aankondig, en sluit dan ook tematies aan by die Paasoratorium, Kruis van Liefde.


Kruis van Liefde was spesifiek gekomponeer om ‘n koor vir beide arias en resitatiewe aan te wend. In Lig van Waarheid gebruik die komponis egter drie soliste om die rolle van die Maria, Josef en die engel Gabriël uit te beeld.


Prinsloo se uiteindelike doel is om ‘n trilogie van Oratoria te komponeer: Kruis van Liefde, Lig van Waarheid en Kroon van Wonders. Laasgenoemde, Kroon van Wonders, se libretto is reeds gedeeltelik deur die skrywer en digter, Hans du Plessis, voltooi. Die beplanning vir die Oratorium première in 2025 het reeds afgeskop. Die opname van Kruis van Liefde is vroeër in 2022 vir twee SAMAs benoem.



Die wêreldpremière van Lig van Waarheid is op Sondag, 27 November 2022 om 16:00 in die Groote Kerk, Kaapstad. Prinsloo se eie kamerkoor, Vox Chamber Choir van Pretoria, snoer kragte met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes saam om hierdie splinternuwe Kersfeesoratorium uit te voer. Die komponis self sal die orkes dirigeer. Drie soliste in Vox Chamber Choir, sal die rolle van Maria (Marilize Hattingh), Die Engel (Chris Vale) en Josef (Wouter van Wyk jr.) vertolk.


Kaartjies vir die wêreldpremière van Lig van Waarheid saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes is by Computicket beskikbaar of by hierdie skakel: https://tickets.computicket.com/event/lig_van_waarheid/7200859/7200870/2135


Vir Gautengse gehore word ‘n spesiale voorkonsert van Lig van Waarheid uitgevoer op Sondag, 20 November 2022 om 15:00 by die Universiteitsoord-kerk in Pretoria. Die werk sal by hierdie geleentheid as ‘n weergawe aangebied word waar die strykorkes verwerk is vir die orrel. Die orrelis is die bekende Isabelle van Rensburg. Magdalena de Vries sal die timpane bespeel, Richard Kingon en Alex Urban die twee trompette, Jannie Le Roux op die Celesta en Esther Watkinson op die fagot.



Kaartjies vir dié konsert is beskikbaar by www.tixsa.co.za of deur op hierdie skakel te klik: https://tickets.tixsa.co.za/event/lig-van-waarheid-pretoria


Klik hier vir ‘n klein voorsmakie van Lig van Waarheid: https://www.youtube.com/watch?v=Oxs6egBVNAs





28 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page