top of page

Persverklaring: VUURBEES | FIRE BEAST

Afrikaanse Persverklaring

Vuurbees | Fire Beast

Persverklaring

Koor: Vox Chamber Choir

Komponis en dirigent: Franco Prinsloo

Marimba en perkussie: Magdalena de Vries

Klavier: Eugene Joubert

Tjello: Carel Henn

Addisionele perkussie: Herman Swanepoel

Venue: -3 Parkeerkelder, King Price Gebou, Menlyn, Pretoria

Datum: 31 Oktober 2021

Tyd: 14:00

Die Vox Chamber Choir onder leiding van die komponis en dirigent, Franco Prinsloo bied die skeppende verkenningstog, Vuurbees, as ‘n pleitstem vir omgewingsbewaring aan. Die ikoniese Afrikaanse gedig van DJ Opperman, Vuurbees, dien as inspirasie vir dié multidissiplinêre konsert.

Die Verenigde Nasies verklaar die volgende:


“Miljarde ton CO2 word jaarliks in die atmosfeer vrygelaat weens steenkool-, olie- en gasproduksie. Die mens se doen en late stel rekord hoë vlakke groenhuisgasse vry, met geen tekens van afname nie. Volgens ‘n tienjaaropsomming van die UNEP Emission Gap Reports, dui al die data steeds op die huidige groeitrajek.

Die laaste vier jaar was die warmste wat nog ooit aangeteken is. Volgens die World Meteorological Organization se verslag van September 2019, is die planeet ten minste een grade Celsius warmer as pre-industriële vlakke, en baie naby aan wetenskaplikes se beskouing van “onaanvaarbaar riskant”. Die 2015 Parys Ooreenkoms oor Klimaatsverandering vra dat die aanvanklike verwarming tot “heelwat laer” as twee grade Celsius beperk moet word, met die strewe om aardverwarming tot onder 1.5 grade Celsius te beperk. Maar as ons nie globale emissies kan beperk nie, kan temperatuur teen 2100 tot meer as drie grade Celsius styg, wat ons ekosisteme onherstelbaar sal beskadig.”


Deur nuut-gekomponeerde koorwerke met video-installasiekuns van die Suid-Afrikaanse kunstenaars Sonya Rademeyer, Griet van der Meulen, Willem van der Heever en André van Rensburg te kombineer, plaas Prinsloo die soeklig op die verwoestende skade wat ons aksies aan die omgewing rig.

Die konsert word aangebied in ‘n ongewone konsertruimte, die parkeerkelder van ‘n nuwe ontwikkeling in Menlyn, Pretoria. Die akoestiek van dié spesifieke stedelike ruimte leen homself tot ‘n ryker luisterervaring, terwyl dit die gehoor terselfdertyd konfronteer met hoe buite voeling die mensdom met die natuur is. Die nabootsing van ‘n post-apokaliptiese, ondergrondse bunker bied aan die gehoor die geleentheid om hulle in ‘n katastrofiese toekoms in te leef, maar ook die kans om oor ons aksies vir ‘n volhoubare toekoms na te dink.


Die program bestaan uit oorspronklike komposisies van Prinsloo, waarvan elkeen ons huidige omgewingskwessies aanspreek en die mens se impak op ons planeet verken. Dit sluit in in “Vuurbees” deur DJ Opperman, "Terrella: I. Where Do We Come From? What Are We? Where Are We Going?", Cantata “Modimo” en “RED LIST: AB-AF".

Die program word verder aangevul deur werke soos “Walvisnota” (gebaseer op die gedig van René Bohnen) waar die koor baie effektief aangewend word om die klankkleur van walvissang uit te beeld, sowel as Prinsloo se toonsetting van die bybelteks “Vox Clama Dicentis” (Jesaja 40:8) as ‘n nadenke oor die vlietende aard van die lewe: “Dit ís so, die volk is soos gras. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.”

Ten einde die koor se pleitstem harder te laat weerklink, het Vox Chamber Choir met twee plaaslike nie-winsgewende organisasies, die Mabula Ground Hornbill Project en die Little Rhino Orphanage kragte saamgesnoer.

Mabula Ground Hornbill Project

Bromvoëls (Southern Ground-hornbills) word internasionaal as “Kwesbaar” in hulle habitat in suidelike Afrika beskou. In Suid-Afrika en Namibië word hulle reeds deur die IUCN as “Bedreig” geklassifiseer, en hul getalle buite beskermingsareas daal jaarliks. In Suid-Afrika daal hul getalle aanhoudend en loop hulle die risiko om “Krities Bedreig” te word. Sommige van die redes wat gegee word vir hul afname is die verlies aan habitat, bosindringing en -ontwikkeling, oorbeweiding, grootskaalse monokultuur, verlies aan broei-areas, vergiftiging en dood deur elektriese skokke.


Die Little Rhino Orphanage


Die Little Rhino Orphanage is ‘n nie-winsgewende organisasie wat fokus op die versorging, voeding en red van wilde diere wat wees gelaat word in Suid-Afrika. Hulle is ook toegewyd tot die opvoeding van die openbare en privaatsektor oor wild- en omgewingsbewaring.

Deur ons vennootskap met hierdie organisasies hoop die Vox Chamber Choir om hulle te ondersteun deur meer mense van hulle bewus te maak. Ons gehoor sal ook uitgenooi word om die organisasies te ondersteun deur skenkings direk aan hulle te maak, of deur hul boodskap nog verder te versprei. Die Vox Chamber Choir skenk ook 10% van elke verkoopte konsertkaartjie aan beide die Little Rhino Orphanage en die Mabula Ground Hornbill Project.


BORGE

Die Vox Chamber Choir bedank graag WS Pianos vir die borg van ‘n vleuelklavier vir hierdie konsert. Werner Stolze is die vierde uit ‘n lang lyn meesterklavierbouers. Sy oupagrootjie, Willy Kurt Hutzelmann, het die familiefabriek in 1919 in Eisenberg, Duitsland begin. Sy fabriek was een van slegs ‘n paar klavierfabrieke in Oos-Duitsland om die Tweede Wêreldoorlog te oorleef. Die Stolze-familie het in 1953 na Suid-Afrika geïmmigreer. Kurt en Wilfried Stolze, pa en seun, het hul klaviervakmanskap in Suid-Afrika voortgesit en hul eie maatskappy, WS Pianos, gestig.

Die Vox Chamber Choir bedank King Price Insurance ook hartlik vir hul bydrae

van die venue vir die konsert.




Recent Posts

See All
bottom of page