top of page

SUM koororatorium: Van ’n uitvoering na ’n belewenis

5h
5 min read

Wat die gehoor kan verwag



Ek was nog nooit dieselfde mens vóór en ná die uitvoering van ’n uitgebreide koorwerk nie. Iets verander in ’n mens wanneer jy maande lank met ‘n groot werk soos ’n oratorium saamleef. Aanvanklik is daar note wat aangeleer moet word, ritmes wat jou soms laat struikel, uitheemse woorde wat nog vreemd op die tong lê. Maar iewers tussen die eerste oefening en die konsert gebeur daar íéts. Die musiek begin deel van jou word. En jy, sonder dat jy dit noodwendig agterkom, word deel van die musiek.


By Vox Chamber Choir word ons voortdurend daaraan herinner dat ons nie bloot note en frases sing nie. Ons vertel stories. Om daardie stories geloofwaardig te vertel, moet jy iets van jouself in die musiek vind. En iets van die musiek in jou eie wese. Jy moet leer om deur iemand anders se oë te kyk, deur iemand anders se hart te voel. En soms ontdek jy in die proses iets van jou eie menswees wat jy nog nie voorheen raakgesien het nie.

Dis dalk hoekom ek glo ’n koorwerk nie net deur sy gehoor beleef word nie. Dit word ook deur die uitvoerders gelééf.



Met die aanleer van SUM, die nuwe koororatorium deur Franco Prinsloo, het hierdie ervaring vir my besonder tasbaar geword. SUM ondersoek die mens se tydlose soeke na betekenis, hoop en iets wat groter as onsself is.


Wie is ek? Wat maak ek hier? Waarheen is ek op pad? Jy kan nie weke lank musiek instudeer wat met hierdie vrae worstel sonder om self ook te begin wonder nie.


Wanneer jy deel van die klankbeeld word


Maar SUM is méér as die musiek wat op die verhoog uitgevoer gaan word. Voor die formele konsert word ’n besondere klankbeeld geskep waarin Vox se stemme met die dreunklanke van die Terrella Project¹ verweef word. Dit nooi die gehoor om die wêreld van SUM reeds buite die tradisionele konsertuitvoering te begin ervaar.


Elke Voxie is genooi om tot hierdie klankbeeld by te dra. Om iets van ons eie menswees, ons gedagtes en ons verstaan van SUM in woorde en klank vas te vang. Só word die stemme van die mense wat die oratorium uitvoer, ook deel van die belewenis wat die gehoor gaan ontmoet.


Die opdrag aan Vox het eenvoudig geklink: Beantwoord die vraag in ’n stemnota: Wie is ek?

Eenvoudig. Tot ek self moes begin antwoord.


My eie bydrae het die vorm van ’n gedig aangeneem. Die Latynse woord sum beteken ek is. Een woord in Latyn, twee in Afrikaans, wat ’n hele bestaan moet kan dra. Wie is hierdie ek? Is ek die verhale wat ek geërf het, die stories wat ek self vertel, of die herinneringe wat ander eendag van my sal hê?



Ek het begin dink aan ons behoefte om te behoort, om lief te hê en verstaan te word. Aan hoe ons deur woorde betekenis probeer gee aan ons bestaan, maar soms juis deur musiek uitdrukking gee aan dit waarvoor woorde ontbreek.


En aan asem. Daardie eenvoudige, wonderbaarlike handeling waarmee ons lewe ontvang en iets van onsself aan die wêreld teruggee.


Uit hierdie gedagtes is my antwoord op die vraag gebore. En dit bly, helaas, ’n voorlopige antwoord op ’n vraag wat waarskynlik nooit finaal beantwoord kan word nie.


SUM

Ek is


mens


en man


en wese…


en wees.


Ek is skepper


en skepsel,


skeppend


en skerp.


Ek is deels die verhale van my voorgeslagte,


deels die stories wat ek in my leeftyd vertel,


deels dit wat my naastes hierna oor my nog gaan vertel.


Ek is woord,


want deur die woord is daar betekenis


en só weet my medeskepsels
wat ek beteken


en wie ek is.


Ek is klank,


want deur klank is daar emosie,


en só weet die mensdom


hoe ek voel


en wie ek is.


Deur klank


maak ek woord


en met woord


maak ek klank,


en so voel en weet die heelal


wie, hoe en hoekom ek is.


Ek is luister,


want in luister


lê versteek


die aller verstaan.


Ek is vraag,


want, soos jy,


weet ek nie altyd wie ek is nie.


Miskien lê dáárdie wete


in mekaar opgesluit,


en die sleutel tot verstaan


in die aanhou vra.


Ek is gemeenskap,


daarom wil ek behoort.


Ek begeer om te ken


en geken te word,


om te kies


en gekies te word.


Ek is liefde:


uit ander se liefde


het ek begin bestaan.


En deur die gee
en ontvang daarvan,


raak liefde, soos asem,


nodig om te leef.


Ek is asem.


Ontvang die wêreld in my
en hou dit ’n oomblik lank.


Dan gee ek iets van myself
weer aan die wêreld terug.

Asem raak klank,


klank raak woord,


woord raak betekenis.


Só word ek die wêreld


en die wêreld ek.


Ek is lewe,


seker en onseker.


Lig en skadu.


Vol en leeg.


Ek is dit wat was,


wat is,


en wat steeds word.

Ek is tussenin:


tussen kom en gaan,


tussen onthou en vergeet,


tussen weet en vra,


tussen my eerste asem
en die laaste.


Ek is


die alles in my eie heelal,


en bykans niks


in die ewige kosmos.


Ek is


mens


en man


en wese…


en wees.


En dan word dit jóú belewenis


Op Sondag 8 November word my woorde, saam met my mede-Voxies se stemme, deel van ’n klankwêreld wat die gehoor by die Staatsteater gaan betree.


Ek wil nie veel verder verklap nie. Die vreugde van kuns lê immers ook in ontdekking. Maar die klankbeeld bied ’n uitnodiging om reeds vóór die eerste noot van die oratorium te begin luister, te wonder en te beleef.


En wanneer die musiek uiteindelik begin, bring elke gehoorlid ’n eie verhaal, eie herinneringe en eie vrae saam op die musiekreis. Miskien is dít wat ’n uitvoering in ’n belewenis verander: die oomblik wanneer die kunstenaar se verhaal ook iets van jou eie word.


My hoop is dat ons, kunstenaars én gehoor, ná die laaste noot weggesterf het, nie noodwendig met meer antwoorde huis toe gaan nie, maar dalk met beter vrae. En met ’n dieper verwondering oor die eenvoudige, wonderlike feit dat elkeen van ons kan sê:

Ek is.


SUM koororatorium | ’n Nuwe koororatorium deur Franco Prinsloo

Sondag 8 November 2026 | 15:00


Dramateater, Suid-Afrikaanse Staatsteater, Pretoria


Kaartjies: R300 | Ouderdomsbeperking: 13+


Kaartjies beskikbaar by Webtickets.


¹ Die Terrella Project is ’n meesleurende, multidissiplinêre kunsprojek deur die Australiese kunstenaars Michaela Gleave en Amanda Cole, wat in samewerking met kunstenaars en datategnici ontwikkel is.


Terrella omskep die aarde se elektromagnetiese veld intyds in klank deur gebruik te maak van regstreekse data uit wêreldwye moniteringsnetwerke, insluitend data van Hartebeesthoek, net buite Pretoria. Die resultaat is ’n voortdurend veranderende klankuitdrukking van die kragte wat ons planeet omring, maar gewoonlik buite die menslike waarnemingsvermoë bly.


Of in gewone taal: Ons praat en sing met die klank wat ons planeet maak as begeleiding.

Comments


bottom of page